Gradwell Margaret

Margaret Gradwell is in Pretoria gebore en het beeldende kunste studeer onder die bekende Bloemfonteinse Kunstenaar, Eben van der Merwe. Sy was as dosent aangestel by die Universiteit van Pretoria in 1980 en is bevorder tot mede-professor in 1998. Haar spesialiteitsveld is publieke kuns.
In 2013 het Margaret weggebreek van die akademie om ‘n loopbaan as voltydse kunstenaar te kan uitleef. Die oorheersende tema van haar werk: die natuurlike wêreld en die uitdagings rondom dit het daartoe gelei dat sy deur die bekende VSA galery, Call of Africa in Naples en Juputer, Florida, gekontrakteer is vir die afgelope 5 jaar, en het verlede jaar navorsing daar gedoen en ook uitgestal.
In 2012 het sy Kurator geword van die indrukwekkende privaatversameling van Paul Harris by die Ellerman House in Bantry Bay, Kaapstad. Om hierdie versameling uit te brei, na te vors, daaroor te skryf, dit uit te stal en te versorg, is ‘n verrykende ondervinding wat teruggeploeg word in haar eie kreatiewe werk.
Margaret het gedien op verskeie rade gedurende haar termyn by die Universiteit van Pretoria en ander instansies, soos die advies komitee van die Pretoria Metroraad en as visie-president van SANAVA vir twee termyne. Sy was ook die nasionale beoordelaar vir die 2013 ABSA l’Atelier kunskompetisie.
Haar eerste solo-uitstalling in 1983 was in Pretoria en sederdien het sy deelgeneem aan menige uitstallings in Suid-Afika en die buiteland. Haar werk is verteenwoordig in baie privaat versamelings, korporatieweversamelings, diplomatieke- en tersiêre instansies in Suid-Afrika, o.a Konstitusionelehof, Absa- en Standard Banke, Sasol, Pretoria Kunsmuseum, William Humphreys Museum, universiteite van Stellenbosch, Pretoria en Unisa, en ook in die Nationale Museum vir Vroue in Kuns, Washington DC, in VSA.
Margaret is getroud met Johan Truter en werk vanaf haar ateljee in Bloemfontein, wat terloops die ‘stam-stad’ van die Gradwell familie in Suid-Arika is.

Showing 1–9 of 12 results